
Prof JAPIE COETZEE is ‘n gebore Vrystater.
Aan die einde van 1977 behaal hy die graad B PROC aan die Universiteit van
die Oranje-Vrystaat. Gedurende die laaste twee jaar van sy studies (wat hy
deeltyds aangepak het), voltooi hy ook sy leerklerkskap as prokureur by
Webber & Newdigate Prokureurs in Bloemfontein en word hy in April 1978
toegelaat as Prokureur, Notaris en Aktevervaardiger in die Hooggeregshof van
Suid-Afrika, Oranje-Vrystaat se Provinsiale Afdeling.
Hy spesialiseer vanaf 1990 reeds in boedelbeplanning en belastingreg. In
dié verband adviseer hy gereeld kliënte en hulle finansiële adviseurs en
ouditeure oor verskeie boedelbeplanningsaangeleenthede wat natuurlik dikwels
ook belastingaangeleenthede insluit. Uit die aard van sy doktorale
navorsing, adviseer hy baie dikwels oor trustaangeleenthede en die gevolge
van gebrekkige trusts en hoe dié gevolge moontlik vermy kan word. Hy is ‘n
deeltydse boer en sy boerdery ondervinding vind nuttig toepassing wanneer
boere geadviseer word oor hulle boedelbeplanning en spesifiek ook oor hulle
opvolgbeplanning in hulle onderskeie boerderye. Hy staan tans aan die hoof
van ‘n gevestigde Aktes- en Boedelberedderingspraktyk op Parys waar hy
praktiseer onder die naam Coetzees Ingelyf.
In 1996 verwerf hy ‘n Diploma in Belasting Praktyk by die Randse Afrikaanse
Universiteit (Dip Tax Prac.), ‘n diploma wat aangebied was in samewerking
met die Prokureursorde van Suid-Afrika.
In 2001 verwerf hy die LLM-Graad met spesialisasie in Belastingreg (wat
spesifiek ook boedelbeplanning ingesluit het), cum laude, aan die
Universiteit van Suid-Afrika.
Sedert 2005 is hy aangestel as buitengewone dosent aan die PUK se Noordwes
Kampus waar hy deeltyds Boedelbeplanning doseer aan die M-Studente in
Boedelreg. Sedert 2007 is hy aangestel as buitengewone professor aan
dieselfde universiteit waar hy steeds voortgaan om deeltyds te doseer.
In 2006 verwerf hy die LLD-Graad aan die Universiteit van Suid-Afrika en
behels sy navorsing ‘n kritiese ondersoek na die aard en inhoud van
trustbegunstigdes se regte ingevolge die Suid-Afrikaanse reg. In sy
navorsing probeer hy om hierdie aspekte, beperk, internasionaal te vergelyk
en het juis met die oog daarop, gedurende die begin van 2004, die
Universiteite van Edenburg en Aberdeen in Skotland besoek.