Alhoewel die datum nie met absolute sekerheid vasgestel kon word nie,
blyk dit tog deur oorlewering dat ʼn sekere Henry Oswald Vos gedurende
die jaar 1904 deur die Vrystaatse regering na Parys gestuur is as
dorpsekretaris. Om sy inkomste aan te vul het hy toestemming van die
plaaslike magistraat verkry om in die distrik Vredefort, waarvan Parys
toe ʼn deel uitgemaak het, as wetsagent te praktiseer. Later het mnr.
D.H. Viljoen, ʼn gekwalifiseerde prokureur, by mnr. Vos aangesluit en
praktiseer hulle toe in vennootskap te Parys met takkantore te
Oranjeville en Vredefort.
In
die laat 1920’s neem hulle ʼn jong onderwyser, mnr. J.J. Wessels, wat toe
oorkant die Vaalrivier op Kopjeskraal onderwys gegee het, as ingeskrewe
klerk in diens. Die leerkontrak is met mnr. Viljoen aangegaan, aangesien
ʼn wetsagent nie toegelaat was om ʼn klerk op te lei nie. Wessels word as
prokureur toegelaat in die vroeë depressiejare, en weens die swak
ekonomiese toestand in daardie stadium kon die vennootskap hom nie ʼn
redelike salaris aanbied nie. Om sy dienste te behou gee hulle hom ʼn
derde vennootskap. Die swaar jare het voortgeduur en Viljoen het besluit
om uit die vennootskap te tree. Hy neem die twee takkantore oor en
vestig hom te Vredefort. Vos en Wessels gaan voort met die kantoor te
Parys onder die naam Vos & Wessels.
In
1936 is Vos oorlede en gaan Wessels op sy eie voort met die praktyk. Hy
het van tyd tot tyd ʼn professionele assistent in diens gehad waarvan een
ʼn sekere mnr. J.B. Cornelius is wat later van tyd te Heilbron
gepraktiseer het.
In
1945 neem Wessels mnr. J.P. Coetzee (die vader van die huidige eienaar
van die firma) as leerlingklerk in diens. In 1947 neem hy ook mnr. T.
Vorster as prokureur in diens. Vorster word in 1948 vennoot en die
praktyk word onder die naam Wessels & Vorster voortgesit.
In
1950 is Wessels oorlede en gaan Vorster voort om op sy eie onder
dieselfde naam te praktiseer. Later verander hy die firmanaam na T.
Vorster. Nadat Coetzee as prokureur toegelaat is, word hy eers
professionele assistent en later vennoot. Die naam van die vennootskap
word toe verander na Vorster & Coetzee.
Mnre. J.P. Coetzee jr. en N.P. Barnhoorn wat sedert 1979 as
professionele assistente in diens was van die firma, tree in 1980 toe as
vennote. Die naam van die vennootskap bly onveranderd.
In
1985 tree J.P. Coetzee sr. af en die oorblywende drie vennote gaan voort
met die praktyk onder die bestaande naam.
In
1987 tree Vorster ook af en die twee oorblywende vennote gaan voort met
die praktyk. Die firmanaam word verander na Coetzee & Barnhoorn.
Mnre. Coetzee en Barnhoorn neem ʼn sekere mnr. J.L. Pretorius as
professionele assistent in diens en hy word in 1988 ʼn vennoot van die
firma waarvan die naam onveranderd bly. Pretorius verlaat mettertyd die
praktyk waarna Coetzee en Barnhoorn voortgaan met die praktyk tot in
2002 met die afsterwe van mnr. Barnhoorn.
Die firma Coetzee & Barnhoorn se naam word vanaf 1 Maart
2004 verander na Coetzees en op 1 Maart 2005 inkorporeer die firma om
voortaan bekend te staan as Coetzees Ing.
Dr. J.P. Coetzee, sy seun Japie en sy dogter Cecile de Milander is tans die direkteure van Coetzees Ing.